WOW hou vanjaar 21st en ons volgroei nie net ons eie skoene nie. Na 21 jaar van bemagtiging deur taal, letterkunde en die kunste by minderbevoorregte skole, het ons al die punt bereik waar ons die bestuur van projekaksies aan WOW-opvoeders kan oorgee om hul skole te bemagtig. Die WOW-opedag het in April reeds by die Universiteit Stellenbosch (US) geskied met ons Maak ’n plan-inisiatief. Maar mnr Ricky Dennis Prince, ’n gr. 12-opvoeder in LO by Bastiaanse Sekondêr op Beaufort-Wes, het met ’n plan van sy eie gekom. Met ondersteuning van WOW, kon mnr Prince op 16 Mei 60 leerders in gr. 10, 11 en 12 vergesel vir ’n opedag van hul eie by wat hy as “die ultimate universiteit” beskou.
Nie net het opgeleide mentors wat aan die US studeer die leeders toegelig oor die moontlikhede by die universiteit en wat hulle benodig om aan die instansie te studeer nie. Hulle het raad en ervaring gedeel oor hoe om die studentelewe te oorleef, te balanseer, waar om aan te klop vir steun, en opbouend én deurdringend gepraat oor onder meer welstand en oorkoming. Soos met leerders by die WOW-opedag, sal WOW regdeur die aansoekproses steun bied aan hierdie voornemende Maties om te verseker hulle bereik hul akademiese- en loopbaansdoelwitte.
Vir hierdie skool van die wêreldwonderse dorp in die Karoo, is eienaarskap en uitblink nie nuutjies nie. Die einste mnr Prince het laasjar die Woordtrofee vir die WOW-skool van die jaar vir Bastiaanse Sekondêr in ontvangs geneem. Hy benadruk die rol van opvoeders in leerders se toekoms.
“ ’n Mens moet op ’n vroeë stadium ’n kind se gedagtes kan laat gaan sodat hulle ’n idee kan hê van waar hulle eendag baie graag wil wees. So ons is baie dankbaar aan WOW vir hul ondersteuning met geleenthede soos hierdie. Daar is nie ’n beter werk as om onderwyser te wees nie. Die onderwyser is die ultimate! Jy bou mense vir hulle toekoms,” het hy aan die leerders gesê.


