Inskrywings vir nasionale Sanlam WOW Spelfees ingewag

Dis weer tyd om te es-pee-ee-el en deel te wees van die grootste spelfees in Suid-Afrika. Registrasie vir 2024 se nasionale Sanlam WOW Spelfees is nou oop vir skole en individuele leerlinge in elke uithoek van die land. Dit word in ál nege provinsies aangebied. Registrasie en deelname is gratis en leerlinge van enige taalvlak in drie van die land se ampstale – Afrikaans, Engels en Xhosa – word genooi om in dié taalkategorieë deel te neem:

  • Afrikaans: graad 1 tot 10
  • Engels: graad 5 tot 9
  • Xhosa: graad 6 tot 8

Spel speel-speel en speel spel-spel

Registrasievorms, spellyste en aanlyn speltoetse asook ander bronne kan hier gevind word. Vasgestelde spelfeesdatums en -venues sal met verloop van tyd gekommunikeer word. Die nasionale eindrondte vind op 28 September 2024 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas. 

Sluitingsdatum vir registrasie: 31 Mei

Skryf in en raak deel van ’n beweging van hoop en aksie vir ons kinders se toekoms. Sáám verander ons lewens speel-speel. 

Woorde maak impak

Die Sanlam WOW Spelfees is deel van die Woordfees se Woorde open Wêrelde-bemagtigingsprojek (WOW) wat vanjaar mondig is. Ons verbreed sedert 2003 reeds leerlinge en opvoeders se horisonne deur kreatiewe programme gerig op taal, letterkunde en die kunste in skole en gemeenskappe aan te bied. Die spelfees gee aan jong leerlinge in ’n vroeë stadium reeds blootstelling aan die US en die geleenthede wat dié instansie bied, voornemende studente kry die inligting wat hulle benodig vir tersiêre studie, en talentvolle kandidate word bemagtig met WOW-studiebeurse van die US.

WOW bied ook jaarliks ’n program by die Toyota US Woordfees aan ter viering van die verruimende waarde van die geskrewe en gesproke woord in al sy gedaantes. 

Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, sê die aanmoediging van prestasie en die verering van uitnemendheid is ’n kerndoelwit en -prioriteit van dié bemagtigingsprojek. 

“As ons nie seker maak dat ons kinders ’n goeie grondslag het van woordeskat, woordbegrip en woordgebruik nie, gaan ons hulle ’n onreg aandoen,” sê Fiona van Kerwel. 

“Die spelfees is ’n veeltalige platform waar leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer – op álle vlakke: wanneer hulle moet luister, wanneer hulle moet praat en óók wanneer hulle moet skryf. So wanneer ons sê ons wil spel-spel speel, help ons leerders om kommunikasie op ’n verstaanbare, kreatiewe, en selfs op kritiese wyse te laat oorkom. Behalwe dit, deurdat die leerder opstaan om die woord hardop te spel of uit te klank, bou ons aan hul selfvertroue en help ons hulle om die vrymoedigheid te hê om hulself uit te druk in ’n taal waarin hulle gemaklik is. En terselfdetyd help dit onderwysers geweldig, want daar is aanlyn toetse wat hulle kan gebruik om leerders besig te hou en saam met hulle die woorde te oefen. En ons werk met woorde wat uit die kurrikulum van die betrokke grade kom.”

wow