Kyk hoe kyk hy vir my, en daar is vyftig randjies vir jou! Jou registrasie vir ’n gratis EasyEquities-beleggingsrekening bring R50 in beide jou sak om te belê asook R50 in die Woorde open Wêrelde-beursfonds (WOW) vir studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
WOW, ’n bemagtigingsprojek van die Stellenbosch Woordfees en die US, vier in 2024 haar 21ste verjaarsdag. Deur kreatiewe programme wat taal, letterkunde en die kunste by onderbediende skole bevorder, verbreed WOW leerders en opvoeders se horisonne sedert die jaar 2003. Onder WOW se vaandel tel die grootste spelkompetisie in Suid-Afrika, die nasionale Sanlam WOW Spelfees wat in agt provinsies en in drie ampstale aangebied word: Afrikaans, Engels en Xhosa. Die provinsiale uitdunrondes is in volle swang en die nasionale eindronde vind op 28 September by die US plaas.
Die beursfonds is ter ondersteuning van studente op die WOW-50-skole-werwingsprojek by die universiteit. Vir dié projek werk WOW sy aan sy met die universiteit se sentrum vir Voornemende Studente om kandidate vir studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe te werf. WOW bied ook voortgesette steun nadat leerders as Maties geregistreer het.
EasyEquities is ’n maklike, veilige en vinnige manier om in ’n verskeidenheid van opsies te belê – beide in Suid-Afrika en die buiteland. Jy kan met so min as R5 begin om jou pad na finansiële welstand en kundigheid te baan. En vanjaar belê hulle ook in jou en in WOW.
Dié wen-wen-situasie werk só: As jy ’n nuwe profiel op EasyEquities se webwerf skep en registreer, gee EasyEquities jou R50 om na goeddunke te belê. En vir elke nuwe profiel wat geregistreer word, skenk EasyEquities ook R50 aan die WOW-beursfonds. Registrasie is gratis en daar is geen verpligting om meer as die komplimentêre R50 te belê nie.
Klik hier vir meer inligting.
EasyEquities is sedert 2022 by die Woordfees betrokke as naamborg van die EasyEquities Skrywersfees. En benewens die prysgeld, skenk hulle ook aan elke skrywer wat in die 2024 Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem word ’n EasyEquities-beleggingsrekening met ’n saldo vir belegging. Elke skrywer ontvang verder R5 000 en die algehele wenner loop met R30 000 weg.
WOW bied ook jaarliks ’n opvoedkundige program aan by die Woordfees. Vanjaar se fees vind van 28 September tot 6 Oktober in Stellenbosch plaas. Besoek woordfees.co.za vir meer inligting.