Dit was ’n aand om te koester vir me. Mary Bergh en P.C. Petersen Primêre Skool by vanjaar se Woordtrofees-toekennings. Hulle is onderskeidelik vereer as ons WOW-opvoeder van die jaar en ons WOW-skool van die jaar – vir uitsonderlike, lewenskragtige bydraes tot ons kinders se toekoms, vir inisiatief en uitnemendheid.
Die Woordtrofees-toekenningsgeleentheid het op 28 Oktober by die Nooitgedacht-wynlandgoed plaasgevind. Die wenners het elk ’n oorkonder en ’n bedrag geld ontvang. Fiona van Kerwel, bestuurder van Woorde open Wêrelde (WOW), het die motiverings vir die WOW-toekennings gelewer.



Mary Bergh, WOW-opvoeder van die jaar, neem haar toekenning in ontvangs. FOTO’S: Liesl Steenkamp
“Me. Mary Bergh van Parkdene Primêr in die Wes-Kaap onderrig al vir 30 jaar en sy is vanaf 2012 reeds by die WOW-inisiatief betrokke,” het Van Kerwel gesê. “Sy is ’n grondslagfaseopvoeder met ’n groot bewondering en waardering vir die Afrikaanse letterkunde. Sy dryf ook die WOW-leeskringe in haar skool. Haar betrokkenheid is nie net tot haar eie skool beperk nie, maar strek tot by buurskole in haar onderwysdistrik en provinsie. Sy is ’n fantastiese leermeester vir die jonger opvoeders. Met haar onblusbare energie en passie, haar toewyding en omgee, help sy om ons leerders aan meertaligheid bloot te stel deurdat sy ook die isiXhosa-spelfees in Metro-Oos vir graad 3 gedryf het. Haar aansteeklike vriendelikheid en deursettingsvermoë spoor opvoeders en leerders aan om nie net deel te wees van WOW nie, maar deel te blý van WOW. Sodoende bevorder sy taaltrots en gee sy aan menige leerder en opvoeder die kans om wêrelde buite die grense van hul eie omgewing te ontdek.“
Mnr. Devon Combrinck, adjunkhoof van P.C. Petersen Primêr, het dié raakvatterskool van Kylemore in die Wes-Kaap se toekenning in ontvangs geneem. Die skool is reeds vanaf 2008 betrokke by WOW.

Die personeel van P.C. Petersen Primêr, WOW-skool van die jaar, neem hul toekenning in ontvangs.
“Ons het begin met die Verf-en-vers-kompetisie en in 2009 het dié skool reeds ’n spelkampioen opgelewer,” het Van Kerwel vertel. “PC Petersen pak die WOW-projekte met passie en toewyding aan. Besoeke aan en deelname van P.C. Petersen Primêr het nie net oor die jare gegroei nie, maar die skool het ook deel geword van die jaarlikse WOW-fees. Hierdie dinamiese skool het vanjaar ook hul eie WOW-kunsuitstalling en WOW-leespiekniek aangebied. En onder die bekwame leiding van veral mnr. Combrinck en juffrou Fritz, maak hulle seker dat hul leerders en opvoeders altyd aan WOW deelneem. Selfs hul leerders wat aan ons Telfees deelneem, vaar baie goed. Hierdie is werklik ’n skool wat deur moeilike omstandighede baie hard daaraan werk om hul leerders op verskillende vlakke bloot te stel aan verrykende Afrikaanse en kulturele aktiwiteite. Op hierdie manier dra die skool by tot die opbou van die breër skoolgemeenskap en gee hulle ook hul leerders die geleentheid om eerstehands te ervaar hoe hul woorde vir hulle wêrelde kan open.”
Met die Woordtrofees vereer die Stellenbosch Woordfees, ’n sustersprojek van WOW, jaarliks kunstenaars wat uitnemend presteer het op die fees. Die spesiale WOW-toekennings word ook tydens hierdie geleentheid toegeken.
Baie geluk aan me. Bergh en die skoolgemeenskap by P.C. Petersen Primêr. Julle toewyding en geesdrif dra nie net geweldig by tot WOW se missie nie – julle verbreed ons missie.
WOW is ’n bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch wat vanjaar mondig is. WOW verbreed sedert 2003 leerders, opvoeders en onderbediende skole se horisonne deur kreatiewe programme gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste. Lees meer by https://wow.woordfees.co.za.