WOW het die sleutels! Van 27 September tot 6 Oktober by die 2024 Woordfees vier WOW 21 jaar van potensiaal ontsluit.
Die WOW-feesprogram sluit in die nasionale finaal van die grootste spelfees in die land, ’n debatfees, verf-en-versslypskool en -uitstalling, langarm, ’n konsert met Join Bands not Gangs en vele meer.
Woorde Open Wêrelde (WOW) is ’n bemagtigingsinisiatief aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die afgelope 21 jaar verbreed ons die horisonne van leerlinge, onderwysers en hele skoolgemeenskappe met kreatiewe programme gerig op opvoedkunde, kuns, kultuur en die verruimende waarde van woorde.
Ons het ons skoene ingegroei en staan hulle nou behoorlik vol, maar is veral trots daarop dat ons nou die sleutels kan oorhandig aan ons goeie maats om hul eie potensiaal te ontsluit. Die inisiatief wat vanjaar geneem is deur Bastiaanse Sekondêr op Beaufort-Wes en Kylemore se Laerskool P.C. Petersen is twee van vele sprekende voorbeelde. Bastiaanse Sekondêr het met behulp van WOW en ’n WOW-onderwyser hul eie opedag by die US gereël. En Laerskool P.C. Petersen se ontluikende jong kunstenaars en hul onderwysers het ’n uitstalling vol verbeelding, vindingrykheid en verstommende talent op skou gesit by hul skool. Die leerders het die skilderye en gedigte op WOW se verf-en-verfslypskool geskep.
“ ’n Mens moet op ’n vroeë stadium ’n kind se gedagtes kan laat gaan sodat hulle ’n idee kan hê van waar hulle eendag baie graag wil wees. So ons is baie dankbaar aan WOW vir hul ondersteuning met geleenthede soos hierdie. Daar is nie ’n beter werk as om onderwyser te wees nie. Die onderwyser is die ultimate! Jy bou mense vir hulle toekoms,” het mnr Ricky Dennis Prince wat die Bastiaanse-groep vergesel het, gesê.
Kom skop jou skoene uit op ons mondigwordingspartytjie waar ons speel-speel spel, ’n fees maak van lees, en jazz en jol en jive tot die stof staan op die WOW-dansbaan! Kom vier saam met ons ’n nuwe horison in die Stellenbosse lenteson.
WOW-FEES 2024: PROGRAM
Alle sessies is in Afrikaans en GRATIS, tensy anders vermeld.
SANLAM WOW SPELFEES
Die Sanlam WOW Spelfees is ’n gratis veeltalige projek wat jaarliks omtrent 2 000 leerders, hul ouers en onderwysers van reg oor die land byeen bring. Die spelfees gee aan jong leerders in ’n vroeë stadium reeds blootstelling aan die US en die geleenthede wat dié instansie bied. Voornemende studente kry die inligting wat hulle benodig vir tersiêre studie, en talentvolle kandidate word bemagtig met WOW-studiebeurse van die US.
Leerders van enige taalvlak in drie van die Wes-Kaap se ampstale – Afrikaans (gr. 1-10), Engels (gr. 5-9) en Xhosa (gr. 6-8) – word genooi om in dié taalkategorieë deel te neem:
- Afrikaans: graad 1 tot 10
- Engels: graad 5 tot 9
- Xhosa: graad 6 tot 8
Fiona van Kerwel, bestuurder van WOW, sê die aanmoediging van prestasie en die verering van uitnemendheid is ’n kerndoelwit en -prioriteit.
“As ons nie seker maak dat ons kinders ’n goeie grondslag het van woordeskat, woordbegrip en woordgebruik nie, gaan ons hulle ’n onreg aandoen,” sê Fiona van Kerwel.
“Die spelfees is ’n veeltalige platform waar leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer – op álle vlakke: wanneer hulle moet luister, wanneer hulle moet praat en óók wanneer hulle moet skryf. So wanneer ons sê ons wil spel-spel speel, help ons leerders om kommunikasie op ’n verstaanbare, kreatiewe, en selfs op kritiese wyse te laat oorkom. Behalwe dit, deurdat die leerder opstaan om die woord hardop te spel of uit te klank, bou ons aan hul selfvertroue en help ons hulle om die vrymoedigheid te hê om hulself uit te druk in ’n taal waarin hulle gemaklik is. En terselfdetyd help dit onderwysers geweldig, want daar is aanlyn toetse wat hulle kan gebruik om leerders besig te hou en saam met hulle die woorde te oefen. En ons werk met woorde wat uit die kurrikulum van die betrokke grade kom.”
Belyningsvergadering
Onderwysers wat diens doen as beamptes by die Sanlam WOW Spelfees, vergader om dinge agtermekaar te kry vir die groot spelfees op hande. Hierdie oriënteringsessie bied aan beamptes die geleentheid om vertroud te raak met alle reëlings vir die nasionale spelfees.
- 27 SEPT 15:00 | 180 min | HS Lückhoff-skoolsaal | Gratis
Nasionale eindronde
Leerders van reg oor Suid-Afrika spel teen mekaar om as die kampioenspeller vir 2024 gekroon te word. Leerders spel speel-speel en speel spel-spel.
- 28 SEPT 08:00 | Program by knoppie hier onder | Gratis
Prysuitdeling
Die 2024-wenners van die Sanlam WOW Spelfees word bekroon vir hul harde werk. Die topdrie-spellers kry elkeen erkenning en ontvang gesogte pryse vir hulle spelvermoë. Skole ontvang ook trofees en elke eersteplekwenner kry ’n ekstra spesiale geskenk.
- 28 SEPT 14:30 | 60 min | Standard Bank Endler | Gratis
WOW-SKRYWERSFEES
Die WOW-leeskringe betrek deur die jaar leerlinge van 25 hoër- en laerskole asook graad R’s. Hulle beoordeel onder meer kinder- en jeugboeke vir die ATKV-Woordveertjies, ontmoet hul gunstelingskrywers en leer die fyner kunsies van stories skryf by dié ervare outeurs.
Moontlik gemaak deur NB-uitgewers
WOW-skrywersgesprek: Gr. 4-5
Troula Goosen wou van kindsbeen af skryf. Ná jare as binneversierder op Riversdal in die Wes-Kaap het sy in 2008 ’n skryfkursus voltooi en nou lewer sy kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers. In 2016 het sy ’n ATKV-Woordveertjie ontvang vir Spooksoene, haar eerste vollengte jeugverhaal. Haar reeks jeugromans Raaiselster, Raaiselsee en Raaiselklip rrrol van die tong af en sy bied nou self slypsessies aan in kreatiewe skryfwerk aan die hand van dié boeke.
- 2 OKT 11:00 | 120 min | US Biblioteek-ouditorium | Gratis
WOW-skrywersgesprek: Gr. 8-9
Die jeugboekskrywer Jana du Plessis Müller deel 20 jaar se ervaring in die skryfbedryf met die hoërskoolspan. Sy het ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns, en buiten haar werk as joernalis, kopieskrywer en digitale bemarker, geniet sy dit steeds om stories te vertel. Haar 2024-roman, Borrelgom, kyk na hoe ’n jong meisie vinnig moet grootwoord sodat die lewe haar nie soos borrelgom opkou nie.
- 3 OKT 11:00 | 120 min | US Biblioteek-ouditorium | Gratis
SPESIAAL VIR SENIORS
Vir ons WOW-aspirantskrywers
WOW-skryfskool
Voornemende WOW-skrywers word deur gevestigde woordkunstenaars geslyp in die skryf van kreatiewe stukke. Die einddoel is om die werk van dié aspirantskrywers in ’n bundel op te neem en uit te gee.
In samewerking met PEN Afrikaans
- 4 OKT 13:30 | 150 min | Stellenbosch-biblioteek, Pleinstraat | Gratis
WOW-dag vir gr. 11-leerders
Die toekoms wink. Bekende rolmodelle en alumni van genooide skole gesels met voornemende studente en motiveer hulle om eendag hulle drome aan die US te kom verwesenlik. Daarna gee Afrikaans-spesialiste van die WKOD wenke oor hoe om ’n NSS-vraestel vinnig en suksesvol kaf te draf. Ná ’n sessie oor tersiêre studie aan die US deur die Sentrum vir Studentewerwing ontmoet leerders bekende akteurs, met ’n WOW-gesprekleier wat vrae uit die gehoor fasiliteer. Spesiale gaste gesels met almal voordat daar musiek gemaak word. Agterna kuier almal saam by WOW se 21ste verjaardagpartytjie in die Jan Maraispark.
- 5 OKT 08:00 | 360 min | Krotoa-gebou, Ryneveldstraat | Gratis op uitnodiging
WOW-debatfees
Beplan julle spel met wyse woorde om die opponente speel-speel te uitoorlê. Debatvoerders van verskeie skole kom slyp hulle vaardighede met onderwerpe wat aansluit by vanjaar se Woordfees-tema, “Speel”.
- 5 OKT 08:00 | 360 min | Lettere en sosiale wetenskappe-gebou | R500 per groep
WOW-skoolmediakursus
Kom ontwikkel jou neus vir nuus! In dié voldagslypskool vir 200 leerlinge en hulle onderwysers van WOW-skole word die wêreld van gedrukte en digitale media op ’n prettige manier ontsluit. Verskillende aspekte van die joernalistiek word bespreek, met raad oor hoe om ’n skoolkoerant interessant maar steeds prakties aan te pak. Deelnemers kry ’n voorsmaak van die fantastiese pryse wat aan die projek gekoppel is. Só bou ons voort op die opwinding van die WOW-jaarprogram vir skoolkoerante. Lees hier meer oor dié projek.
- 5 OKT 08:00 | 360 min | GG Cillié-gebou, lokaal 1028 | Gratis
WOW-toneelslypskool
Planke toe! Aspirant-akteurs van WOW-skole leef vanjaar weer hulle kreatiewe drome uit op ons gewilde slypskool. Hier word hulle gehelp om vir die pasafgelope Proscenium-dramakompetisie tekste te kies en voor te berei vir die afdelings gedigte, prosa en monoloë. Daar word ook kortliks gekyk na aspekte soos rolspel vir radio, TV en oorklanking. Onderwysers is ook welkom by die slypskool. Deelnemers sal ’n produksie by die Woordfees bywoon en daarna aan ’n bespreking deelneem.
- 5 OKT 08:00 | 360 min | R50 per deelnemer
SPESIAAL VIR JUNIORS
WOW-redenaars
Klein maar getrein! Met die WOW-redenaarsfees slyp ons laerskoolleerlinge se redenasievermoë om op hoërskool mekaar behoorlik die stryd te kan aansê in debatvoering. Gr. 6- en 7-leerlinge van omliggende skole lewer toesprake wat vanjaar se Woordfees-tema, “Speel”, bekyk.
- 3 OKT 14:30 | 150 min | Idasvallei Primêr | R50 per deelnemer
Verf-en-vers-slypskool
Is jy ’n digter, skilder of gewoon gekunsteld? Kom ontwikkel jou behendigheid, oog vir kuns en digvernuf. Dié gewilde slypskool wakker kreatiwiteit en ’n liefde vir lees aan by leerders in die grondslag- en intermediêre fase. Onderwysers word touwys gemaak in nuwe, prettige maniere van lesgee, byvoorbeeld slypskole in kreatiewe skryfwerk, visuele geletterdheid, teken- en verfwerk, en selfs vingerverf. Deelnemers skryf kort gediggies en stel dit skeppend voor op A3-papier. Die eindproduk: ’n kleurryke plakkaat met elke leerder se gedig daarop. Elke kunswerk kom in aanmerking vir WOW se jaarlikse Verf-en-Vers-wedstryd, en die wenplakkate word met pryse beloon. Enkele skole gaan ook hul kunswerke uitstal.
- 5 OKT 09:00 | 300 min | St. Idas Primêr | Gratis
WOW-telfees
WOW spel nie net nie; ons tel ook. Vir die eerste keer by die WOW-fees kan leerlinge van omliggende skole vet pret beleef met wiskunde. Onder die bekwame leiding van die wiskundiges dr. Erna Lampen en Amanda le Roux woel leerlinge met getalle, bewerkings en syfers. Hierdie skole neem deel aan die WOW-telfees wat eindig met ’n gala-geleentheid in Desember.
- 5 OKT 10:00 | 180 min | Vroueverenigingsaal | Per uitnodiging
SPESIAAL VIR ONDERWYSERS
WOW-kuier met skoolhoofde
As deel van WOW se 50-skole-student-projekaksie word skoolhoofde genooi om te gesels oor kwessies wat belangrik is vir sekondêre en hoër onderwys. Gesprekleiers rig interessante besprekings en WOW se ondersteuning aan voornemende, en huidige studente word ook belig. Elke skoolhoof ontvang ’n lekker geskenkpakkie. Ons vertel hoe leerders se woorde vir hulle wêrelde kan oopmaak.
- 1 OKT 14:30 | 150 min | Van der Sterr-gebou, lokaal 1041 | Gratis
WOW-slypskole vir skoolkore
Warm jou stem op. Onderwerpe soos die noodsaaklikheid van skoolkore word aangeroer, terwyl belangrike take soos hoe om ’n skoolkoor te dirigeer en die fyner kunsies van verhoogoptrede bespreek word. Moontlikhede vir jaarprogramme en kooroptredes word geïdentifiseer en besonderhede oor deelname aan WOW-koorfeeste word verskaf.
- 2 OKT 14:30 | 150 min | St. Idas Primêr | Gratis
Lees is ’n fees in die intermediêre fase vir WOW-leeskringe
Ons glo lees moet vir elke kind ’n fees wees. Die WOW-projek maak onderwysers touwys oor hoe om leerlinge besig te hou met lekkerleesstories en -aktiwiteite. In hierdie interaktiewe sessie tussen die aanbieders, onderwysers en WOW-leeskring word waardevolle wenke vir lees- en skryftegnieke gegee. NB en WOW voorsien ook slim idees aan die leeskringe oor hoe om boekuitstallings by skole te reël sodat leerders hulle eie boeke kan besit. Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, gesels oor moontlikhede om lees prettig en met begrip by skole aan te bied.
In samewerking met NB
- 2 OKT 14:30 | 150 min | US Biblioteek-ouditorium | Gratis
Lees is ’n fees in die senior fase vir WOW-leeskringe
Raak kreatief met lees. Onderwysers word uitgenooi na die WOW-projek se aanbieding oor die rol van ’n leeskringkoördineerder op skool. Waardevolle wenke word gegee oor hoe om geletterdheidsvlakke in ons skole kreatief en strategies te benader. Bruikbare riglyne en notas oor leeskoördinering en die genot van lees word gedeel. Alles word aan die hand van die KABV-dokumente (CAPS) gedoen. Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, gesels oor moontlikhede om lees prettig en met begrip by skole aan te bied.
- 3 OKT 14:30 | 150 min | US Biblioteek-ouditorium | Gratis
Hoekom moet kinders lees?
Hoekom is lees vir so baie kinders ’n uitdaging en hoe kan ons die taak saam aanpak? Kom woon dié leeswerksessie by om saam te gesels oor maklike, kreatiewe maniere om kinders se leesbegrip te verbeter en ’n liefde vir lees te ontwikkel.
Alle kleuter- en laerskoolonderwysers, ouers en belangstellendes word uitgenooi om hierdie geleentheid by te woon.
Aangebied deur Vriende van Afrikaans
- 3 OKT 14:30 | 150 min | Idasvallei Primêr, Mediakamer | Gratis
WOW-dag vir onderwysers
Ongeveer 200 onderwysers en finalejaar-onderwysstudente volg ’n dagprogram wat bestaan uit waardevolle wenke vir taalstrukture en -konvensies aan die hand van die KABV en aangebied onder die bekwame leiding van WKOD-kundiges. Gesprekke oor welstand en die verantwoordelike gebruik van KI (of dan AI) in klaskamers word ook aangeraak. Junaid Anthony gesels oor die aanbied van ’n literêre boekefees by skole. Ná dié spesiale geleentheid sorg ’n genooide kunstenaar vir vermaak voordat almal ’n smaaklike ligte ete geniet.
- 5 OKT 08:00 | 360 min | Goldfields | Gratis
SPESIAAL VIR STUDENTE
Maties gesels oor…
Kom maak jou stem dik! Hier word al die brandende kwessies bespreek wat studente raak. Lede van die WOW-studentevereniging gesels met medestudente en ander genooides oor dinge wat saak maak. Toegang sluit ‘n ligte happie en iets te drinke in.
- 3 OKT 19:00 | 90 min | US Museum-anneks | R50
SPESIAAL VIR WOORDFEESGANGERS
WOW-verjaardagfees-langarm-snack-dans
WOW wil met hierdie geleentheid erkenning gee en waardering betuig aan al ons ondersteuners en deelnemers. Oud en jonk kappityt op die Woordfeesdansbaan. Ná al die lees, notas maak en lag is dit tyd vir dié gewilde feesinstelling. Elginairs se orkes sal sorg dat niemand te lank stilsit nie.
- 28 SEPT 19:30 | 270 min | Per uitnodiging
Besoek woordfees.co.za vir die Toyota Stellenbosch Woordfees se program.