Meer as 500 leerders, hul ouers en opvoeders het op 28 September op Stelenbosch saamgekom vir die nasionale eindronde van die grootste spelfees in Suid-Afrika – die Sanlam WOW Spelfees.
Leerders in die volgende grade en taalgroepe het deelgeneem:
- Afrikaans: graad 1 tot 10
- isiXhosa: graad 6 tot 8
- Engels: graad 5 tot 9
“Ek werk nou al van graag 1 af vir dié, so ek is baie trots op myself,” sê Michelle Fourie, die graad 8-wenner (Afrikaans) van Hoërskool Trio in die Vrystaat.
‘Woorde open letterlik wêrelde’
Laerskool Prins Albert pronk met drie leerders wat medaljes gewen het, waaronder twee goud en een silwer. Dié woordtoorders is Benjamin Berdien (gr. 4-wenner), Rania Fransen (gr. 5-wenner) en Rahkeem Wagenaar (gr. 6, tweede plek).
“Ons WOW in hoofletters hier in Prins Albert! Ek is al van 2017 af betrokke by WOW,” vertel Diana Koorts, ’n graad 3-opvoeder by dié skool wat vier leerders op die lang rit na die Eikestad vergesel het.
“Vir die kinders is dit ’n wonderlike ding. Hul skoolwerk en selfs hul skryfwerk is absoluut puik – skryf sonder ’n fout! Hul woordeskat word so verbreed en daarmee ook hul algemene kennis. Woorde open letterlik wêrelde vir hulle.”
Die opvoeders by dié skool sorg dat elke deelnemer ten minste vier grade se woorde onder die knie kry – “ ’n enorme klomp woorde wat hulle andersins nie aan blootgestel sou word nie”, sê juffrou Koorts.
Sy meen die leerders se selfvertroue kry ook ’n reuse-hupstoot. Dit eggo die woorde van Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder.

“Leerders word gevra om op te staan en die woorde hardop te spel of te klank. Só bou ons aan hulle selfvertroue sodat hulle met selfversekerdheid kan kommunikeer en hulself kan uitdruk.
“Bemagtiging staan sentraal tot die spelfees en WOW se missie. Ons moet seker maak ons kinders staan op sterk fondament met hulle woordeskat asook hulle begrip en gebruik van woorde. Anders doen ons hulle ’n onreg aan. Baie dankie aan al ons leerders, opvoeders en ouers vir julle onverskrokke toewyding, voorbereiding en absolute passie vir WOW en al ons projekte – dit behoort aan julle soveel as wat dit ons s’n is. Ons gee nou die sleutel oor aan julle om saam te ontgin aan julle potensiaal sodat dit ons kinders na ’n blink toekoms dra.”
Die jong woordsifters en hul opvoeders en ouers het gratis toegang tot uitstekende taalhuplbronne op die WOW-webwerf, met woordelyste, 10- en 50-punt-speltoetse, moeilike woorde, verklarende sinneboeke, en meer. Besoek wow.woordfees.co.za.
Dankie ook aan al ons borge, waaronder Sanlam, die Universiteit Stellenbosch (US) en hul afdeling korporatiewe kommunikasie en bemarking, Millennium Trust, Trust vir Afrikaanse Onderwys, NB-Uitgewers, en mnr Sibongile Maputi van Tanci Publishers wat ons isiXhosa-boekpryse geborg het.
Woorde open Wêrelde, algemeen bekend as WOW vir die betowerende werk wat dié bemagtigingsinisiatief van die US doen, is mondig in 2024. Vir die afgelope 21 jaar verbreed ons die horisonne van leerders en opvoeders by onderbediende skole deur kreatiewe programme gerig op taalvaardigheid en die kunste.
Ons jaarlikse WOW-fees is tans in volle swang by die Woordfees, met menige van ons projekaksies wat regdeur die jaar aangebied word, soos die verf-en-vers-slypskool, debatsfees, redenaars, ’n spesiale konsert vir graad 11-leerders en vele meer. Die WOW-fees duur tot 6 Oktober.

















