Uitblinkers op Woorde Open Wêrelde (WOW) se skoolmediakompetisie is Donderdag, 6 Maart tydens ’n gala-geleentheid by die Doornbosch-saal in Stellenbosch vereer.
Die Paarliete Klein Nederburg Sekondêr het skoonskip gemaak met die meeste pryse, insluitend beste gesamentlike inskrywing, beste nuusberig oor ’n WOW-, kuns- of kultuur-geleentheid, beste algemene nuusberig, asook ’n ekstra prys vir die beste PDF-weergawe van ’n skoolkoerant. Hulle is vergesel van hulle opvoeder mnr Toyer Hefca wat die projek by die skool koördineer.
“Weer red deur aksie.”
Dis hoe Hefca die woord “redaksie” omskryf.
“Ek het opgemerk dat wanneer mense hoor van ’n redaksie, dit oor die algemeen as baie boring beskou
word omdat hulle eerder langs ’n rugbyveld sou wil sit of die skool se konsert wil bywoon omdat dit meer aksiebelaaid is,” vertel Hefca. “Maar die redaksie het meer mag as al hierdie funksies, want die redaksie het so te sê die laaste sê deur verslagdoening. Ek sien die redaksie as ’n reis waar jy kan rondbeweeg met jou tas. Jy kan goed daarin pak en jy moet goed daaruit haal en ruimte maak vir verandering en nuwe dinge.”

Die WOW-skoolmediaprojek is gerig op skole en leerders wat meestal beperkte hulpbronne het, veral wat betref rekenaar- en slimfoontoegang, data- of internetverbinding en kontantvloei, sê Jacolette Kloppers, inhoudskoördineer van die WOW-skoolmediaprojek.
Pryse soos skootrekenaars, taalversorgingsbronne en hardeskywe (hard drives) is toegestaan om toppresteerders in staat te stel om hulle nuuskierigheid te bly voed met hulle skoolkoerante. Leerlinge van tien Wes-Kaapse hoërskole het ingeskryf vir die 2024-kompetisie as deel van die WOW-skoolmediakursus, waar ervare multimedia-joernaliste regdeur die jaar saam met skole en leerlinge gewerk het om hulle voor te berei en raad te verskaf oor die inhoud van ’n skoolkoerant en uitvoering van die jaarplanne. Skole word aangemoedig om die reeks opleidingsvideo’s op die WOW-webwerf te kyk en die terugvoering en kriteria van vorige jare se skoolmediakompetisies te bestudeer.
Inskrywings is verder bepunt in die kategorieë beste artikel of profiel (Hoërskool Gordon) en beste nuusfoto en byskrif (Hoërskool Soneike). Die plaaslike Hoërskool Cloetesville het die tweede plek behaal vir die beste algemene nuusberig.
Wat voorheen ’n skoolkoerantkursus was met ’n klem op gedrukte of afgerolde skoolkoerante wat in tradisionele koerantstyl uitgelê is, is aangepas tot ’n meer algemene skoolmediakursus sodat sosiale en digitale media en die gebruik van selfone ook bespreek kan word.
“Ons hoop hierdie projek sal wêrelde open, verander, versier, verhelder en inkleur – boonop word belangrike joernalistieke, media-, kommunikasie- en taalvaardighede ook aangeleer,” sê Kloppers.
WOW is ’n bemagtiginsinisiatief by die Universiteit Stellenbosch. Lees hier meer oor wat hulle doen om onderbediende skole deur taal, kuns en kultuur te bemagtig.

















