Sanlam WOW Spelfees

Registreer gratis vir die Sanlam WOW Spelfees 2025

Registrasie vir die 2025 Sanlam WOW Spelfees is nou oop en deelname is heeltemal gratis. Dis die grootste spelfees in Suid-Afrika en skole en leerders van reg oor die land word genooi om in die volgende taalkategorieë deel te neem:

  • Afrikaans: Graad 1 tot 10
  • Engels: Graad 4 tot 9
  • isiXhosa: Graad 6 tot 8

Registrasievorms, spellyste en aanlyn speltoetse asook ander taalhulpbronne kan by wow.woordfees.co.za gekry word. Vasgestelde spelfeesdatums en -venues sal met verloop van tyd gekommunikeer word. Registrasie sluit op 31 Mei. Die nasionale eindronde vind op 11 Oktober 2025 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas. 

Woorde maak impak

“Ons beklink jaarliks al ons projekaksies met ’n spesiale WOW Fees by ons sustersprojek, die Stellenbosch Woordfees, wie se tema vanjaar ‘deel’ is. Met die Sanlam WOW Spelfees nooi ons skole om deel te wees van ’n beweging van hoop en aksie vir ons kinders se toekoms. Ons leuse vir die spelfees is ‘spel speel-speel’, en saam kan ons lewens spel-spel verander,” sê Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder en onderwyskenner.

Die Sanlam WOW Spelfees is die vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte wat tans 21 jaar vier as deel van die US-afdeling Sosiale Impak en Transformasie.

Deur dié veeltalige platform kan leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer, verduidelik Van Kerwel.

“Ons help leerders om op ’n verstaanbare, kreatiewe asook kritiese wyse te kan kommunikeer. Wanneer hulle moet opstaan om woorde hardop te spel of uit te klank, en vir ’n definisie of sin vra, bou dit aan hulle selfvertroue en selfversekerdheid. Die aanlyn speltoetse en -taalhulpbronne help opvoeders ook geweldig baie ter voorbereiding, en ons werk met woorde uit die kurrikulum van die betrokke grade.”

In 2024 is 186 250 leerders van 745 skole geregistreer om in Afrikaans te spel, 159 750 leerders van 639 skole vir Engels, en 31 000 leerders van 124 skole vir isiXhosa. Die resultaat was 219 spelfeeste met 27 225 deelnemers deur die jaar. Meer as 500 deelnemers het vir die nasionale eindronde op Stellenbosch saamgekom.

Lees hier meer oor die werk wat WOW doen om skoolgemeenskappe te bemagtig.