Meer as 500 leerders in Okt. by nasionale Sanlam WOW Spelfees-eindronde 2025

Meer as 500 leerders van reg oor die land sal in Oktober aan die nasionale eindronde van die 2025 Sanlam WOW Spelfees in Stellenbosch deelneem. Dit is die grootste spelfees in Suid-Afrika en word regdeur die jaar in agt provinsies en in drie tale aangebied – Afrikaans, Engels en isiXhosa. Die nasionale eindronde vind op 11 Oktober by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas.

Die Sanlam WOW Spelfees is die vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte wat tans 21 jaar vier as deel van die US-afdeling Sosiale Impak en Transformasie. Deur dié veeltalige platform kan leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer, verduidelik Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder en onderwyskenner.

“Ons help leerders om op ’n verstaanbare, kreatiewe asook kritiese wyse te kan kommunikeer. Wanneer hulle moet opstaan om woorde hardop te spel of uit te klank, en vir ’n definisie of sin vra, bou dit aan hulle selfvertroue en selfversekerdheid. Die aanlyn speltoetse en -taalhulpbronne help opvoeders ook geweldig baie ter voorbereiding, en ons werk met woorde uit die kurrikulum van die betrokke grade,” sê Van Kerwel.

Leerders neem in die volgende afdelings deel:

Afrikaans: Graad 1 tot 10 (302 deelnemers van 136 skole)

Engels: Graad 4 tot 9 (184 deelnemers van 117 skole)

isiXhosa: Graad 6 tot 8 (63 deelnemers van 48 skole)

Woorde beloon

By die nasionale prysuitdeling ontvang die topdriespellers in elke graad ’n boekprys met die komplimente van NB-Uitgewers, ’n finansiële prys, ’n medalje, ’n balkie en ’n gelukbringer. Die eersteplekwenner in elke graad sal ook ’n slimfoon en ’n trofee ontvang.

Leerders moes die topvier in drie rondes haal om na die nasionale eindrronde deur te dring: die kringronde, distriksronde en provinsiale ronde. Daar is vanjaar 154 spelfeeste oor hierdie drie rondes aangebied: 114 kringrond, 32 distriksrondes en agt provinsiale spelfeeste. In totaal het daar 2 174 skole geregistreer: 852 skole vir Afrikaans, 1 072 vir Engels en 250 vir isiXhosa.

Aanmeldingsvorms, spellyste, aanlyn speltoetse, programme en venues asook ander taalhulpbronne kan by wow.woordfees.co.za gekry word.

Kom ons spel speel-speel. Saam verander ons lewens spel-spel.

Lees hier meer oor die werk wat WOW doen om skoolgemeenskappe te bemagtig.