Altesame 539 leerders van 350 skole uit agt provinsies het deelgeneem aan die eindronde van die Sanlam-WOW-Spelfees – die grootste een sedert die Covid-pandemie. Hier is die wenners!
Stellenbosch het behoorlik gegons met meer as 500 leerders van 350 skole van reg oor Suid-Afrika wat hierheen gereis het om te kom klank en spel in die nasionale eindronde van die 16de Sanlam WOW Spelfees.
“Die spelfees is een van die hooffokuspunte van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en vorm deel van die provinsiale plan om taal in die provinsie te verbeter,” verduidelik Ebrahim Peck, die WKOD se hoofonderwyskundige van die intermediêre- en seniorfase. “Die spelfees is een van die belangrikste kontak- en interaksiepunte met die Universiteit Stellenbosch (US) se WOW-inisiatief. Ons is trots om al jare hierby betrokke te wees.”
Die spelfees is die vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte by die US-afdeling Sosiale Impak en Transformasie.
Die onderskeie grade van elke taal is by lesinglokale van die universiteit ingedeel. Vanjaar is ook die eerste jaar wat die spelfees ’n ombud by elke graad ingesluit het aan wie ouers hul vrae kon rig.
“Ek moet seker maak dat geen foute insluip nie. As daar ’n ouer is wat nie met iets saamstem nie, nader hulle my en ons klaar dit uit,” verduidelik Denise Priga-Ritter, ombud van die gr. 1’s.
Al die beamptes van die spelfees is onderwysers van reg oor die land. “Almal wat hier werk, moet hulle laat tuis voel sodat die kinders dit net kan geniet. Al die beamptes moet liefdevol wees, want dit is ouers wie se kinders hier sit – hulle én die onderwysers moes baie opofferings maak,” sê Gail Saaiman, spelfeesbestuurder van die gr. 1-klas.
“Ek het al baie plooie bygekry by WOW, maar geniet dit vreeslik,” sê sy.





Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, benadruk hoe belangrik dit is dat die spelfees ’n feestelike ervaring vir die jong deelnemers is. “Nie net slyp ons hulle taalvaardighede nie, maar ons is ook besig om aan hulle selfvertroue te bou. Ons stel hulle bloot aan geleenthede by die Universiteit Stellenbosch en ons wil dit as ’n vriendelike omgewing aan hulle bekend stel – een waar hulle ondersteuning het.”
“Ons is dankbaar vir almal betrokke se harde werk, wat gesorg het dat die spelfees glad verloop het – aan alle beamptes, studente, personeel, borge en in besonder dankie aan ons WOW-leerders wat deur die jaar werk en van oral oor reis om hier te wees.”
Frank Louw, projekbestuurder van die Sanlam-stigting voeg by: “Dit is baie bevredigend om te sien hoe die kinders deelneem van die begin van die spelfees tot waar hulle vandag is by die nasionale eindrondte.”
Volgende jaar spel ons weer!
Hier volg ’n lys wenners:
Afrikaans
Gr. 1: Nick Olivier van Kenhardt Primêr, Noord-Kaap.
Gr. 2: Damien Swartz van St John’s Primêr, Noord-Kaap
Gr. 3: Chadia Fransman van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
Gr. 4: Lameequa Andries van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
Gr. 5: Gideon Verster van Jordanië Primêr, Vrystaat
Gr. 6: Rania Fransen van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
Gr. 7: Ruan Maartens van Laerskool Fairland, Gauteng
Gr. 8: Chandré Vister van Hoërskool Zwartberg, Wes-Kaap
Gr. 9: Jané Stolper van Hoërskool Upinton, Noord-Kaap
Gr. 10: Venecia Cornelius van Saxonsea Sekondêr, Wes-Kaap
isiXhosa
Gr. 6: Bongani Iminathi van Mbekweni Primêr, Wes-Kaap
Gr. 7: Eminathi Sefa van Alfred Stamper Primêr, Wes-Kaap
Gr. 8: Lisakhayna Gigi van Hoërskool Sophumelela, Wes-Kaap
Engels
Gr. 4: Qhakazile Khumalo van Kanonkop Primêr, Wes-Kaap
Gr. 5: Shandu Matumbu van Louis Trichandt Primêr, Limpopo
Gr. 7: Leigh-Gaynon Adams van Perde Eiland Primêr, Noord-Kaap
Gr. 9: Husnaa Kapery van Hoërskool Nasruddin Islamic, Oos-Kaap
Lees hier meer oor WOW.


















