Registrasie vir die grootste spelfees in Suid-Afrika, die 2026 Sanlam WOW Spelfees, open op 16 Februarie en skole en leerders van reg oor die land word genooi om deel te neem. Registrasie en deelname is heeltemal gratis.
Die Sanlam WOW Spelfees is ’n vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief deur taal-, kultuur- en gesyferdheidsprojekte by die Universiteit Stellenbosch (US).
Die Sanlam WOW Spelfees word in agt provinsies aangebied en leerders neem in vier rondes deel in die volgende taalkategorieë:
- Afrikaans: Graad 1 tot 10
- Engels: Graad 4 tot 9
- isiXhosa: Graad 4 tot 8
“Ons leuse vir die Spelfees is ‘spel speel-speel en speel spel-spel’. Ons help dus leerders om op ’n verstaanbare, kreatiewe asook kritiese wyse te kan kommunikeer. Wanneer hulle moet opstaan om woorde hardop te spel of uit te klank, en vir ’n definisie of sin vra, bou dit aan hulle selfvertroue en selfversekerdheid. Die aanlyn speltoetse en -taalhulpbronne help opvoeders ook geweldig baie ter voorbereiding, en ons werk met woorde uit die kurrikulum van die betrokke grade,” sê Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder.
Aanlyn hulpbronne
Taalhulpbronne soos aanlyn speltoetse, verklarende sinneboeke, asook voorbereidingsmateriaal vir Spelfees-koördineerders, sal ook vanaf 16 Februarie op die WOW-webwerf by wow.woordfees.co.za beskikbaar wees. Bevestiging oor wanneer spellyste vir elke graad en taal beskikbaar gestel sal word, volg binnekort.
Reëlings en inligting
Hou WOW se webwerf, sosiale-media-platforms en nuusbrief dop vir belangrike aankondigings oor registrasies, datumlyste, venues en spellyste. Vind nuttige aantekeninge by die digitale pamflet hier onder.
Klik hier om meer te lees oor die werk wat WOW doen om skoolgemeenskappe te bemagtig.
