Bolandse skole presteer in WOW-skoolmediakompetisie

Uitblinkers in Woorde Open Wêrelde (WOW) se skoolmediakompetisie vir 2025 is op Saterdag 11 April tydens ’n prysuitdeling by die Universiteit Stellenbosch (US) vereer. 

Skole en leerders kon in drie afdelings meeding:

  • Afdeling A (inskrywing in skoolverband):  Beste artikel of profiel (feature); Beste kuns-en-kultuurberig; Beste algemene nuusberig; Beste nuusfoto en byskrif; en Beste algehele inskrywing (die gekombineerde punte van die artikel, berigte en foto).
  • Afdeling B (inskrywing in skoolverband): Beste PDF-skoolkoerant.
  • Afdeling C (leerders se individuele inskrywings): Beste resensie of indrukstorie.

Die Paarliete van Klein Nederburg Sekondêr het vir die tweede agtereenvolgende jaar die eerste prys gewen in Afdeling A se kategorie vir beste algehele inskrywing. Hulle het weer met die meeste pryse weggestap nadat hulle ook die eerste plek in die volgende kategorieë behaal het: beste kuns-en-kultuur-berig; beste algemene nuusberig; beste PDF-skoolkoerant; en beste resensie of indrukstorie. 

“Wat my die meeste raak, is om te sien hoe ons leerders groei – nie net as skrywers nie, maar as jong mense met ’n stem, ’n visie en die moed om hul stories te vertel. Ek sien daagliks hul deursettingsvermoë, hul kreatiwiteit en hul toewyding om elke uitgawe beter as die vorige een te maak. Dit is vir my besonders om deel te wees van daardie proses en om hulle te begelei terwyl hulle hul potensiaal begin raaksien en uitleef,” sê Toyer Hefca, opvoeder en koördineerder van die skoolkoerant by Klein Nederburg Sekondêr. 

Scott Adams, matriekleerder en voorsitter van die skoolkoerant by Klein Nederburg Sekondêr, sê die WOW-skoolmediakompetisie het die redaksie se dissipline en deursettingsvermoë getoets. 

“Elke artikel moes deeglik hersien en verfyn word. Gedurende hierdie proses het ons waardevolle vaardighede ontwikkel, onder andere kreatiwiteit, selfdissipline en samewerking – eienskappe wat ons in ons skoolwerk sowel as ons daaglikse lewens kan toepas,” vertel Adams. 

Nóg drie Bolandse skole het presteer. Charleston Hill Sekondêr van die Paarl het die tweede plek behaal in die kategorieë vir die beste PDF-skoolkoerant (Afdeling B) en beste nuusfoto en byskrif (Afdeling A); en die derde plek in die kategorieë vir beste artikel of profiel, beste kuns-en-kultuurberig, beste algemene nuusberig, en beste algehele inskrywing (Afdeling A). 

Hoërskool Bergrivier van Wellington het die eerste plek behaal in die kategorie vir beste artikel of profiel; die tweede plek in die kategorieë beste kuns-en-kultuurberig, beste algemene nuusberig, beste algehele inskrywing (Afdeling A), en beste PDF-koerant (Afdeling B); en die derde plek in die kategorieë vir beste nuusfoto en byskrif (Afdeling A) en beste resensie of indrukstorie (Afdeling C).

Hoërskool Tulbagh het gewen in die kategorie vir beste nuusfoto en -byskrif. 

Klik hier vir die volledige wennerslys. 

Pryse aan die wenners het ingesluit ’n dataprojektor vir die topwenner, hardeskywe, woordeboeke, en taalversorging- en skryfhulpbronne. 

“Ons wil graag leerders en skole inspireer en motiveer om hulle stories te vertel, na te dink oor hulle omgewings, te vier waarop hulle trots is, hulde te bring aan rolmodelle, opgewonde te raak oor moontlikhede en geleenthede, kritiese vrae te vra, oplossings te vind, en ’n spieël voor hulle gemeenskappe te hou – deur middel van skoolkoerante, nuusbriewe en sosiale media. Ons hoop hierdie projek sal wêrelde open, verander, versier en verhelder – terwyl leerders ook belangrike kommunikasie- en taalvaardighede aanleer,” sê Jacolette Kloppers, inhoudskoördineer van WOW se skoolmediaprojek. 

Sewe Wes-Kaapse hoërskole het vir 2025 se kompetisie ingeskryf wat as deel van WOW se skoolmediaprojek aangebied is. Skole kan deur die jaar (en ook tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees) werksessies bywoon waartydens ervare joernaliste en ander kenners verskillende aspekte van die joernalistiek en skoolkoerante bespreek. Skole ontvang ook hulpmiddels en praktiese raad oor hoe om hulle skoolkoerante en skolenuus uit te brei en te verbeter. ’n Reeks opleidingsvideo’s vir skoolkoerantredaksies is ook op WOW se webwerf beskikbaar.

Vanjaar se eerste skoolmediadag – waartydens die prysuitdeling en ’n praktiese werkswinkel aangebied is – het die meeste skole tot nog toe bereik. Sowat 200 leerders en onderwysers van 19 skole van reg oor die Wes-Kaap het die dag bygewoon.

WOW is ’n bemagtigingsinisiatief van die US en bied kreatiewe en opvoedkundige programme aan skole wat gerig is op die bevordering van taal, geletterdheid, letterkunde en die kunste. Lees hier meer oor die WOW-skoolmediaprojek en klik hier vir meer inligting oor WOW. Stuur e-pos aan uswow@sun.ac.za om uit te vind hoe jou skool betrokke kan raak.