Die 17de Sanlam WOW Spelfees vind van Julie tot Oktober landwyd plaas, en skole en leerders word hartlik uitgenooi om nou te registreer. Deelname is heeltemal gratis.
Dit is die grootste spelfees in Suid-Afrika en word nasionaal aangebied. Skole en
leerders kan in die volgende kategorieë deelneem:
- Afrikaans: Graad 1 tot 10
- Engels: Graad 4 tot 9
- isiXhosa: Graad 5 tot 8
Die Sanlam WOW Spelfees is ’n vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch. WOW bied kreatiewe en opvoedkundige programme en aktiwiteite in skole aan wat gerig is op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste.

Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, sê dit is merkwaardig dat die Spelfees al in sy 17de bestaansjaar is. “Ons missie met die Spelfees is om leerders en opvoeders se perspektiewe deur middel van woorde te verruim. Ons wil leerders se taalvaardighede ontwikkel sodat hulle die nodige selfvertroue kan kry om doeltreffend te kommunikeer. Skerp taalvaardighede help hulle ook met ’n beter begrip in ander skoolvakke. Dit is regtig wonderlik om te sien hoe die Spelfees jaar ná jaar groei.”
Leerders moet deur drie vlakke vorder om deur te dring na die nasionale eindronde – naamlik kringvlak, distriksvlak en provinsiale vlak. Die nasionale eindronde vind op 3 Oktober 2026 op Stellenbosch plaas. Datums en venues vir die kring-, distriks- en provinsiale vlakke sal mettertyd gekommunikeer word. Hou WOW se webblad, sosiale media-platforms, WhatsApp-kanaal en nuusbrief dop vir aankondigings en reëlings.
Hulpbronne
Registrasievorms en aanlyn speltoetse is op WOW se webblad beskikbaar by https://wow.woordfees.co.za/wat-ons-doen-2/#. Spellyste word binnekort aanlyn besikbaar gestel.
Sluitingsdatum
Registrasies vir die Sanlam WOW Spelfees sluit op 31 Mei 2026.
Navrae
- E-pos: uswow@sun.ac.za
- Lees hier meer oor WOW.