Woorde Open Wêrelde (WOW) se program vir die 2026 WOW Fees is Donderdagaand bekend gestel tydens ’n voorskougeleentheid van vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees in die Eikestad.
WOW is ’n projek van die Universiteit Stellenbosch (US) se afdeling Sosiale Impak en Transformasie en bemagtig skoolgemeenskappe deur taal-, lees- en kultuurprojekte. Die WOW-jaarprogram bereik ’n klimaks by die Toyota Stellenbosch Woordfees, ’n sustersprojek. Daar is werksessies vir skryf, toneel, skets, debatte, redenaars en vele meer om geleenthede te skep wat leer en deelname aanmoedig.
Uit ’n rits opvoedkundige én prettige programme staan die nasionale Sanlam WOW Spelfees weer uit met woordtoorders van reg oor die land wat meeding om spogregte as topspeller. Feesgangers kan ook hul litte loswikkel by die geliefde Langarm-snack-dans, wat ten bate van WOW se studentefonds aangebied word.
Kom kuier saam by die WOW-Mardi Gras – ’n naweek lange fees vol musiek, mallemeules, stalletjies en lekker eetgoed. Bekende plaaslike kunstenaars sorg vir vermaak op die verhoog.
Die eerste WOW Telfees is vanjaar landwyd bekend gestel en kombineer prettige berekeninge met ’n element van spanning. Leerders ontdek wiskunde is nie net vol breinknopers nie, maar kan ook pret wees. “Laer- en hoërskoolleerders kan hulle syfervaardighede en wiskundige denke ten toon stel, terwyl dit ook akademiese selfvertroue en skooltrots bevorder,” sê Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder.
Ervare skrywers deel wenke, stories en drome met aspirantskrywers by die ATKV WOW-skrywersfees, wat aangebied word met die ondersteuning van Jonathan Ball-uitgewers.

WOW se leeskringe, met die samewerking van die ATKV, betrek regdeur die jaar leerders van 65 hoër- en laerskole, asook 60 kontakopvoeders. Leerders beoordeel onder meer kinder- en jeugboeke vir die ATKV-Woordveertjies, besoek plaaslike biblioteke, ontmoet skrywers en leer meer oor die fyner kunsies van stories skryf.
Leerders kry die geleentheid om meer uit te vind oor studiemoontlikhede en die lewe ná skool by die WOW-dag vir graad 11’s, waar Afrikaans-spesialiste van die WKOD ook praktiese wenke deel oor hoe om ’n NSS-vraestel suksesvol kaf te draf.
Die PEN-skryfskool, in samewerking met PEN Afrikaans, is ’n kans vir hoërskoolleerders om selfvertroue en skryfvernuf te bou met die skryf van opstelle.
By die WOW-skoolmediakursus kan skoolkoerant-redaksies en hul onderwysers die WOW Fees en die Toyota Stellenbosch Woordfees ervaar om inhoud vir hul skoolkoerante en -nuusbriewe te soek.
Vanjaar kan laer- én hoërskole hulle kore inskryf om deel te neem aan WOW se koorfees, aangebied in samewerking met die US se Departement Musiek. Deelnemers kry die geleentheid om hulle sangvaardighede ten toon te stel, dirigeertegnieke te leer, en deur ander skole se energie en kreatiwiteit geïnspireer te word.
Die volle WOW Fees-program is aanlyn beskikbaar by woordfees.co.za.
Besoek WOW se webwerf by wow.woordfees.co.za vir meer inligting oor dié bemagtigingsinisiatief.
Die WOW Fees vind van 3 tot 10 Oktober in Stellenbosch plaas.