1ste WOW Droomuitstappie by die Universiteit Stellenbosch 

Woorde Open Wêrelde (WOW) se eerste WOW Droomuitstappie (Dream Walk) vir graad 12-leerders is op 28 Januarie by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. 

Meer as 60 toppresteerders van Stellenbosch se omliggende skole het saam met hul ouers en onderwysers by die Jan Mouton Leersentrum op die US-kampus saamgekom. Die skole teenwoordig was Kayamandi Sekondêre Skool, Kylemore Sekondêre Skool, Lückhoff Hoërskool, Makapula Sekondêre Skool en Stellenzicht Sekondêre Skool. 

WOW-personeel asook WOW-studente aan die US het ’n inligtingsessie aangebied om leerders voor te berei op die aansoekproses en slaagvereistes om aan die universiteit te kan studeer. Jeneen Jooste, koördineerder van Studentesake by WOW, was die aanbieder. Ook aan die woord was Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder, en Xavier Benyani, ’n WOW-student in sy finale jaar van Onderwys aan die US. 

Die WOW-span het nuttige wenke uitgedeel oor watter steun WOW bied in die aansoekproses en op universiteit, en watter befondsingsgeleenthede beskikbaar is. Fiona van Kerwel het benadruk dat leerders inisiatief moet neem met hul aansoekprosesse vir studie en steun, en dat hulle op akademiese vlak moet presteer om daarvoor te kwalifiseer. Daarbenewens het sy hulle aangeraai om hul akademiese sterkpunte te verken en om op studierigtings te fokus wat daarby aansluit. 

“Verken jou eie kragte sodat jy met duidelikheid kan besluit in watter rigting jy wil studeer. Vanaand is ’n eerste stap tot jou akademiese loopbaan; dis die begin van groot dinge. Skryf jou drome neer, beplan vir jou loopbaan en onthou om WOW te kontak wanneer jy ondersteuning benodig. Ons is tot jou beskikking en ons gaan julle skole besoek om met die aansoekproses te help, maar op universiteit is dit jou verantwoordelikheid om ons te laat weet wanneer jy ons nodig het,” het Fiona van Kerwel aan die leerders gesê. 

Die 50-skole-projek

Met die 50-skole-projek besoek die WOW-span Wes-Kaapse skole om met die proses te begin om graad 11’s en 12’s te help met studie-aansoeke by die US. Die proses word deurlopend opgevolg en steun word regdeur ’n student se studieloopbaan aan die US aangebied. 

Na die sessie het die leerders die geleentheid gekry om hul loopbaansdrome neer te skryf en by die US se amptelike verwelkoming van eerstejaars aan te sluit. Dit het ’n staptoer deur die feestelik beligte kampus ingesluit, waar die Rektor en Visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, die studente verwelkom het. 

“My droom is om ’n rekenmeester te word, maar na dié sessie het ek besluit om te verken wat die universiteit bied wat my punte akkommodeer, en om seker te maak ek behaal daardie slaagvereistes,” het Asakhe Zokufa, ’n matriekleerder van Makapula Sekondêre Skool in Kayamandi, gesê. 

Die volgende toeligtingsessie vir omliggende skole is die WOW Opedag tydens die US Opedag op 18 April om 08:00. Bywoning vir die US Opedag is heeltemal gratis, maar leerders moet onthou om vanaf 18 Maart via Quicket te bespreek vir toegang tot inligtingsessies. 

Die WOW Droomuitstappie is aangebied in samewerking met die US se afdeling Studentesake. 


Lees hier meer oor WOW, ’n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte by die US.