Meer as 500 leerders uit agt provinsies neem die naweek deel aan die 17de Sanlam WOW Spelfees-finaal in Stellenbosch.
Dit is die grootste spelfees in Suid-Afrika en word in drie tale aangebied: Afrikaans (graad 1 tot 10), Engels (graad 4 tot 9) en isiXhosa (graad 5 tot 8). Die Sanlam WOW Spelfees is ’n vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW) aan die Universiteit Stellenbosch (US). Daar was vanjaar 2 208 registrasies oor die drie tale vir dié bemagtigingsinisiatief.

’n Fees: spel speel-speel
“Die Sanlam WOW Spelfees is in 2009 begin om meer as net leerders se taalvaardigheid en -trots te ontwikkel. Om ’n woord hardop voor ’n beoordelaarspaneel van gesoute onderwyskenners te spel, kan nogal intimiderend wees. Hierdie proses bou ook aan ons jong leerders se selfvertroue, en hulle kom studeer dikwels aan die Universiteit Stellenbosch te danke aan hulle blootstelling aan WOW se opvoedkundige en, bygesê, prettige projekte,” sê Fiona van Kerwel, WOW se bestuurder. “By die Sanlam WOW Spelfees spel ons speel-speel en speel ons spel-spel. Dit is immers ’n fees! Ons sien saam met alle deelnemers, ouers en opvoeders uit na die (fees)drif wat Saterdag inhou.”
Daar is heerlike pryse op die spel, insluitend boeke, selfone, kontantpryse, gelukbringers – eersteplekwenners kry die US se stuitige Pokkel! – en medaljes. Alle leerders en beamptes kry ook ’n sertifikaat vir deelname.
Leerders moes aan drie rondes deelneem om na die nasionale eindronde deur te dring: die kringronde, distriksronde en provinsiale ronde. Daar is vanjaar 322 spelfeeste oor hierdie drie rondes aangebied.
Die nasionale eindronde van die Sanlam WOW Spelfees vind op 3 Oktober op die US-kampus plaas. Programinligting en voorbereidingsmateriaal is aanlyn beskikbaar op WOW se webwerf by wow.woordfees.co.za, asook meer inligting oor die werk wat WOW doen om skoolgemeenskappe te bemagtig. Die spellyste is in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) opgestel.









